Deprecated: preg_replace(): The /e modifier is deprecated, use preg_replace_callback instead in
/www/htdocs/w008417d/suedafrika/wp-includes/formatting.php on line
75
Die geselskap het bestaan uit:
- Ralf (die man in wie se webtuiste hierdie skryfsel homself bevind)
- Jan (die skrywer, kollega en vriend van Ralf tydens sy besoek aan Suid-Afrika)
- Johann (nog ‘n kollega) en sy meisie Annelize
- Alewyn (nog ‘n kollega)
- Batie (nog ‘n kollega) en dié se meisie Shirley
- Bernard (‘n ou universiteitsvriend van Johann en Jan) en sy vrou Susan
- Francois en Lowrens (vriende van Johann)
- Marius (kollega en vriend van Bernard-hulle)
12 Oktober 2007 . . . . .
Vol afwagting is ek, Ralf en Alewyn weg uit Pretoria in Ralf se huurmotor (ja, dié is ‘n pronk met ‘n skamele 1400 cc enjin onder die enijinkap – nie die beste vir die langpad en ‘n volgelaaide kar nie). Ons het bietjie later weggekom as beplan, maar was nie-temin reeds op die ooppad teen 17:00. Die gekose roete, wat veronderstel was om ‘minder verkeer’ te gehad het, het ons deur Benoni geneem oppad na die tol-belaaide N3. Benoni is berug vir plat karre – nie duur karre nie, maar goedkoop karre met duur ‘mags’, uiters-lae profiel bande en verlaagde suspensie (wat dus die ‘plat-kar’ tot gevolg het). Na wat gevoel het soos ure, is ons deur Benoni se spitsverkeer en op die N3-snelweg. Net voor ons Harrysmith bereik het, het ons ‘n pitstop gemaak en tot ons vreugde stop Johann in sy Jeep toe ook daar vir ‘n pitstop met nog lede van die geselskap. Na die vreugdevolle hereniging vertrek ons in konvooi na Harrysmith en toe na ons bestemming: die kampterrein Mahai in die suidelike deel van die Drakensberge. Bietjie verdwaal het gesorg dat ons wel eers omtrent 23:00 daar aangekom het, maar gelukkig het ons behoue daar aangekom.
Met ons aankoms (ja – stiknag met nie ‘n idee hoe die omgewing daarna uitsien nie) is ons begroet deur die ander lede van die geselskap – met ‘n knetterende vuurtjie en ‘n paar vetkoeke en stukke vleis wat reeds gaargemaak is. Daardie gebraaide vetkoek was ‘n wenner (veral as mens so bietjie van daardie Llyles-stroop opsit – mmmmm). Die gesels het tot nat 01:00 aangegaan waarna sommiges maar die velle gevat het. O ja, natuurlik moes ons die tent (dankie aan Danie – nog ‘n kollega van Ralf – vir die leen van sy lekker groot vyfman-tent!) ook in die donker opgeslaan kry. Dié taak is geensins ‘n probleem nie, mits daar genoeg lig is. En met dié dat ek my kopliggie by die huis gelos het, moes ons van die vriendelikheid van ander lede van die geselskap gebruik maak om ‘n suksesvolle tentoprigting te voltooi. Ek het heerlik geslaap op my opblaasmatras daardie aand . . . .
Saterdag 13 Oktober 2007 . . . . .
|
|
|
|
|
|
Mahai Kampplek
|
Amfiteater
|
Batie, Shirly, Ralf and Alewyn
|
|
|
|
Oppad na die ‘Tiger Falls’
|
Hangbrug by Mahai
|
Alewyn oppad af met ‘n tou
|
Natuurlik kon niemand baie vroeg opstaan nie agv die laat gaan slapery, maar ek dink ons was darem almal so teen 09:00 uit die velle gewees. Natuurlik was die eeste ding wat opgelet is die pragtige natuurskoon in die skoon-oggendlug. Die berge is nog nie lowergroen nie, maar begin reeds sy wintervere afskud in ‘n groenigheid. Na ‘n vinnige ontbyt en nog gekuier het ons seker so teen 10:30 in die pad geval (hierdie keer ‘n staproete). Ons het sommer met die ‘queen’s causeway’ gedeelte begin wat eindig by ‘n mooi kaskade-watervalletjie. Toe’s ons verder die berge uit en het by die Tiger Falls verby gegaan. Hier het Alewyn, Marius, Batie en Shirley afgesplinter van die res van die geselskap in ‘n poging om van die kranse mak te maak met hulle toue en ‘abseiling abilities’.Die res van die gesleskap het verder gestap tot waar mens die mooi amfiteater kon besigtig soos mens dit op poskaarte sien. Die onmiddellike omgewing was groen, behawe vir die gebrande bome wat daar rondgestaan het. Die berge is gebrand so ‘n tyd gelede. Die brandlyne kon baie mooi gesien word so teen die hange soos mens na die amfiteater se kant toe gekyk het. Na nog ‘n paar foto’s hier is ons terug na die kampterrein toe waar Susan (as hoofkok) en ‘n paar ander vinnig ingespring het om ‘n laat-tipe ‘brunch’ te maak. Die gewone goed soos roereier, spek, brood, ens is opgedis – heerlik! Hierna was dit tyd vir ‘n middagslapie – maar voor dit kon gebeur is ons eers na die winkeltjie toe om ‘n paar goed daar te gaan koop en permit-plakkers vir die karre te kry. Het natuurlik toe gesien watter mooi pad ons mee ingekom het die vorige aand – met die geweldige grootsheid van die berge asemrowend en betowerend. Die afgesplinterde groepie het eers so net voor donker daar aangewals gekom – vol adrenalien van die hoogtes wat hulle getem het. Die vuur is gemaak en nog vleis en goed is op die roosters uitgepak. Meeste was haastig omdat hulle graag die rugby wou kyk (SA teen Argentinië) by ‘n nabygeleë pub of iets. Ek en Ralf het nog bietjie twak gepraat en besluit toe maar om die aand vaarwel te roep toe die reëndruppeltjies begin val. Net nadat ons in die tent was, het dit redelik hard gereën. Weet nie hoe laat die res van die mense teruggekom het van hulle rugby-kykery nie.
Sondag 14 Oktober 2007 . . . . .
|
|
|
|
|
|
Ons Duitse Vriend
|
Johann & Annelize
|
Jan tuur oor die afgronde
|
|
|
|
Batie jaag nonsens aan
|
Johann by Tukela waterval
|
Uitgekerfde pad oppad na Sondag se beginpunt
|
Aaaaa. Dis die dag waarvoor ek gewag het! Ons is vroeg op en was 07:00 opgeslaan en reg vir die dag se ontluikende uitnodigings. Ons moes eers sowat 2 ure ry (deur Phuthaditjhaba) om by die beginpunt van ons 5-ure staproete te kom – die Sentinal Peak roete? Die mikpunt was om by die Tukela (wat later die Tugela word) se val-na-benede te kom. Blykbaar die tweede hoogste waterval in die wêreld (amper ‘n kilometer se valvan die platorand af). Goed, so nadat ons betaal het (ja, mens betaal altyd orals) het ons begin stap (ongeveer so kwart-oor-tien). Aanvanklik was die paadjie mooi met beton uitgelê, maar dit het vroeg-vroeg opgehou en is ons terug op ‘n gewone voetpaadjie. Die paadjie was nie baie steil nie, behalwe redelik aan die begin waar daar ge-‘zig-zag’ word teen ‘n steil helling uit. Sommige van die geselskap het sommer so koek gesny (iets waarmee ek nie juis tevrede was nie – erosie) en deur die plantegroei gevark. Later het die hoogteblootstelling te veel geword vir Shirley. Sy’t toe besluit om net daar te wag totdat ons terugkom (sy’t seker meer as 2 ure gewag). Die uitsigte al die pad tot bo is werklik skouspelagtig. Net voordat mens bo-op die berg (amfiteater) kom, is daar ‘n paar (ja, twee in getal) kettinglere wat uitgeklim moet word. Hier was dit belangerik om nie af te kyk nie . . . mens se maag het behoorlik bolemakiesie geslaan as jy dit wel gewaag het! Maar dit was darem nie té erg gewees nie. Toe ons eers met die kettinglere uit is, is die klim eintlik verby want dis, snaaks genoeg, heel plat daar bo! En daar kan mens oor die magtige Tugela (wat hier nog die Tukela genoem word – soos reeds vermeld) spring van die een kant na die ander sonder inspanning. Elkgeval, nog so ‘n entjie se stap en toe’s ons by die waterval en die kranse . . . die verskiklike kranse! Ek het nog nooit in my dagteslewens sulke geweldige reg-af afgronde so naby beleef nie. En die uitsig was natuurlik onbeskryflik (wel, kyk na ‘n paar foto’tjies hierby saam om ‘n idee te kry, maar wees verseker dat die diepte-persepsie een ma-se verskil maak). Die riwwe daar onder in die laagtes kyk met skurwe punte na bo soos dit tussen die voue beur na boontoe. Ek het een slag op my maag gaan lê en my kop oor die afgrond gestuur – ongelooflik . . . . Natuurlik is dit toe tyd vir baie foto’s neem en eet. Ek het ‘n lekker just-juice daar gehad (dis nou maar my en my pa se ou plesiertjie as ons bo-op ‘n berg is) en wou hom net lekker afkoel deur hom in ‘n poeletjie van die Tukela te sit naby die waterval. Eet toe heerlik mossels (dankie aan Francois) en pro-vitas en wat nog alles. Die wind het effens gewaai wat ook veroorsaak het dat ons maar skuiling gaan soek het agter ‘n paar rotse. Nadat ons seker vir ‘n volle 45 minute daar rondgelê het, is die af-tog begin. Weer met die kettinglere af. Maar wag, net toe ons by die kettinglere kom, besluit Alewyn (wat nie die toue verniet wou opdra nie) om daar te ‘abseil’. Hy en Marius het toe daar afgekom met die toue. Heel lekker gelyk – maar nie heeltemal my tipe ding nie. Seker so 8 minute se stap van die kettinglere af oppad af is daar ‘n lekker ou grot waar ‘n man en vrou gesit het soos twee bobbejane wat die plek bespied. En ja, daar is bobbejane – ons het so ‘n paar van hulle gewaar met die opklimslag. En Alewyn het beweer dat een van die ou-base hom met ‘n klip gegooi het . . . . Ek en Ralf besluit toe om bietjie na die grot te gaan kyk. Daar gekom praat ons lekker met die twee grot-bewoners (half na britte gelyk/-klink) en sien dat daardie grot baie mooi gelyk is onder met die tweeman-tentjie wat daar opgeslaan staan. Lyk na ‘n baie lekker plek om te oornag (soos hulle gedoen het vir twee nagte). Daar is nog ‘n rede waarom mens eerder in hierdie grot sal wil slaap as mens die roete oor twee dae aandurf – die Basoetoes (verskoon die spelling indien dit verkeerd is) kom daar van die Lesotho-hooglande af op hulle perde en dan besteel hulle mens rot en kaal terwyl jy lekker lê en slaap nou jou dag se vermoeide klim/stap. Nou ja, van daar af maar net al die pad tot onder (so 16:15 weer by die begin-/eindpunt aangekom) waar daar totsiens gesê is en die pad terug gevat is. Maar dis ook nie heeltemal al nie – die Johann Jeep en Ralf-huurmotor ry toe eers deur Goldengate na Clarens toe. Hier neffens (of waar ook-al) is ‘n foto van die alombekende Brandwag (die kenteken van die Goldengate Nasionale Park).
|
|
|
|
|
|
Uitsig oppad af
|
Groepsfoto by begin/-eindpunt van ‘Sentinal Peak’ roete
|
Brandwag (Golden Gate se kenteken)
|
|
|
Bo-op die amfiteater
|
Die Tukela tuimel
|
- Tukela rivier
|
na benede
|
By Clarens (was eens op ‘n tyd ‘n klein verwaarloosde ou Vrystaatdorpie sonder enige aansien, maar het intussen die ryk-Gautenger se gunsteling naweek-uithangplek geword met die direkte gevolg dat die plek nou ‘snob’-waarde het) aangekom, eet ons toe ‘n heerlike restaurant-bediende aandete. Seker nie nodig om te sê dat ons eers baie laat die aand tuis gekom het nie. Ek het seker eers 23:30 by my huisie se voordeur ingewals. Doodmoeg en tevrede en vol wonderlike natuurskoon-beelde in my geestesoog het ek dié aand aan die slaap geraak.
Dankie vir Susan wat meeste van die reëlings behartig het en vir al die ander mense wat die ekskursie so aangenaam gemaak het. Dit was werklikwaar ‘n belewenis. Ek dink selfs ons Duitse vriend sal hierdie een hoog op sy lys van ‘bestes ooit!’ sit – nie waar nie, Ralf?